Herwinning

Herwin is 21ste-eeu-wagwoord
Spaar die aarde se skaars hulpbronne – pynloos.  Die dae is verby toe jy kon trotsvoel op jouself as jy jou leë koeldrankblik in die vullisdrom gegooi het. Vandag moet dit herwin word. Karla Janse van Vuuren het ontdek byna al die produkte wat ons gebruik, kan herwin word – moeiteloos.
(Beeld – Pols 24 Febr 2009)


Plastiek
Elke huishouding is propvol plastiekprodukte. Plastiekafval vat baie plek op ashope op en neem duisende jare om te ontbind.
Hoekom herwin?
Deur een 2F-plastiekmelkbottel te herwin word genoeg energie bespaar om ’n 100 watt-gloeilamp 11 uur te laat brand.
Wat word herwin?
Onder meer koeldrankbottels, koshouers (soos oliebottels, margarien- en grondboontjiebotterhouers), skoonmaakmiddelbottels, kosmetiekhouers soos sjampoe- en sonskermbottels, plas- tieksakke, plastiekspeelgoed en polistireenprodukte word herwin. Tupperware en kleefplastiek word nie herwin nie. Daar is sewe plastiekherwinningsmerke op plastiekprodukte wat aandui uit watter soort plastiek dit bestaan. Besoek www. treevolution.co.za vir ’n beskrywing van die verskillende merke en waarheen jy die betrokke produk kan vat vir herwinning.
Hoe word plastiek herwin?
Die plastiek word by ’n versamelaanleg gesorteer volgens kleur en soort, na ’n prosesseer¬aanleg geneem en nóg gesorteer.  By dié aanleg word die plastiek opgekerf in klein deeltjies (korrels). Dié korrels word gewas en wanneer dit droog is in ’n uitpersmasjien gesmelt.  ’n Masjien soos ’n groot vleismeul voer stringe van dié gesmelte plastiek uit en water koel dit af totdat dit solied word. Die stringe word in korrels opgekap, in sakke gesit en aan vervaardigers verkoop om nuwe plastiekprodukte mee te vervaardig.
Hoe kan jy help?
Moenie plastiekprodukte net een keer gebruik en weggooi nie. Drink eerder uit ’n glas as uit ’n weggooibare plastiekkoppie – die glas kan jy hergebruik; die plastiekkoppie nie. Besoek www.plasfed.co.za vir ’n lys van versamelpunte vir plastiekprodukte in jou gebied.
(Bronne: www.plasfed.co.za; www.treevolution.co.za; www.greenworks.co.za)


Blikkies
Daar word jaarliks meer as 3 miljard blikkies vir koeldrank, vrugtesap en bier in Suid-Afrika gebruik.
Hoekom herwin?
Herwinning van blikkies bespaar energie omdat minder energie nodig is om produkte van herwonne materiaal te maak as van nuwe materiaal.   Een herwonne blikkie kan genoeg energie bespaar om ’n televisie vir drie uur te laat werk.   Volgens Collect-a-Can word ongeveer 68% van blikkies in Suid-Afrika herwin – dit is gelyk aan 130 000 t blikkies.    Sedert Collect-a-Can in 1993 met herwinning begin het, is 750 000 t koeldrankblikkies herwin – dit is gelyk aan 150 000 olifante!
Wat word herwin?
Koeldrankblikkies, foeliekoshouers, foelie, spuitkannetjies, tuinmeubels van metaal, metaalvensterrame, metaalspeelgoed, bottelproppies, olie- en verfblikke.
Hoe word dit herwin?
Blikkies is 100% herwinbaar en kan op hul eie gesmelt word, of dit kan met ander metaalafvalstukkies gemeng word. Die verf buite aan die blikkie brand weg en die aluminium onderaan dra by tot die metaalsmeltingsproses.
Hoe kan jy help?
Moenie blikkies weggooi nie! Besoek www.collectacan.co.za en vind uit hoe jy die blikkies in jou lewe kan herwin.
(Bronne: www.greenworks. co.za; www.collectacan.co.za)

 

Glas
Glas kan weer en weer gebruik word sonder dat die gehalte van die produk afneem.
Hoekom herwin?
Slegs 20% (140 000 t) van alle glashouers wat jaarliks vervaardig word, word herwin. Die res (ongeveer 550 000 t) beland op die ashoop, waar dit waardevolle spasie opneem.  Deur glas te herwin word energie, water en ander waardevolle natuurlike hulpbronne bespaar. Deur een bottel te herwin word genoeg energie bespaar om ’n 100 watt-gloeilamp vir ’n uur te laat brand, ’n wasmasjien vir 10 minute te laat was, ’n televisiestel vir 20 minute te laat werk en ’n rekenaar vir 25 minute.
Wat word herwin?
Consol en Nampak herwin alle produkte wat hulle vervaardig; dus alle glasbottels en -houers. Dinge wat hulle nie herwin nie, is keramiekprodukte, kleipotte, kristalglase, spieëls, brillense, voorruit- en vensterglas en hittebestande glas (soos pyrex). Hoe word glas herwin? Glas word ingesamel en na ’n herwinningsfabriek geneem waar dit volgens kleur gesorteer en dan gewas word.
Die glas word fyngedruk in klein deeltjies wat as breekglas of cullet bekend staan. ’n Interessante feit is dat 1,2 t nuwe (virgin) materiaal nodig is om een ton glas te vervaardig, terwyl een ton breekglas een ton glas sal maak. Die breekglas word gemeng met silikasand, soda-as en kalksteen. Die mengsel word in ’n oond gesmelt en dan in vorms gegiet om nuwe houers (soos koeldrankbottels) te maak.
Hoe kan jy help?
Maak seker al die glasbottels, -flesse en -houers is leeg. Was dit uit; verwyder metaal- en plastiekdoppies en kurke. Neem dit na een van The Glass Recycling Company se versamelpunte. Besoek www.theglassrecyclingcompany.co.za vir ’n volledige lys van versamelpunte.
(Bronne: www.theglassrecyclingcompany.co.za; www.greenworks.co.za)

 

Batterye
Suid-Afrikaners gebruik elke jaar ongeveer 50 miljoen batterye waarvan net 3% herlaaibaar is. Die res beland op die ashoop, waar skadelike chemikalieë soos kwik, yster, aluminium, lood en magnesium uitlek en die grondwater besoedel.
Wat jy kan doen?
Die batteryvervaardiger Uniross het in samewerking met Pick n Pay en Makro versamelpunte in dié winkels geplaas waarin verbruikers hul ou batterye kan plaas. Daar is geen geriewe in Suid-Afrika waar batterye herwin word nie en die versamelde batterye word na so ’n gerief in Frankryk vervoer. Koop in die toekoms herlaaibare batterye – een so ’n battery vervang tot ’n duisend gewone batterye.
(Bron: www.mg.co.za)


Papier
Baie mense het al daaraan gewoond geraak om papier te herwin, veral omdat organisasies soos Mondi-Herwinning papierherwinning so maklik soos een-twee-drie gemaak het.
Hoekom herwin?
Volgens die Papierherwinningsvereniging van Suid-Afrika word 50,9% van alle papier herwin en in 2007 is 1 030 000 t versamel en herwin.  Jy kan daardeur ’n groot impak hê op die hoeveelheid rou materiaal en energie wat nodig is om nuwe papier te maak – só word bome, water, vervoer en energie bespaar.  Die energie wat jaarliks deur papierherwinning bespaar word, is genoeg om 512 huishoudings vir ’n jaar van elektrisiteit te voorsien.
Wat word herwin?
Basies alle papier – koerante, wit papier (bv. fakse en koeverte), kartonbokse, kaartjies, medisyneboksies, tydskrifte, geskenkpapier en brosjures, om net ’n paar te noem. Al wat nie herwin word nie, is papier bedek met plastiek, foelie, gom of was.
Hoe kan jy help?
Dink voordat jy uitdruk – dit is nie nodig om elke e-pos uit te druk nie. Maak dit ’n gewoonte om nie papier weg te gooi nie. Mondi-Herwinning het vyf maklike gemeenskapspapierversamelprogramme om jou te help herwin. Besoek www.paperpick-up.co.za en vind uit hoe maklik dit is!
(Bronne: www.nampak. co.za; www.greenworks.co.za; www.prasa.co.za)


Gloeilampe
Die bekendstelling van energiebesparende gloeilampe was goeie nuus. Die slegte nuus is dat dié gloeilampe kwik bevat wat skadelik vir die omgewing is. Dus moet dié gloeilampe nie eenvoudig in die vullisdrom gegooi word nie, want as dit op die ashoop beland en breek, kan die kwik in ons drinkwater beland.
Wat jy kan doen?
Woolworths, in samewerking met Nova-beligting, het houers in baie van hul winkels waar jy van jou ou gloeilampe ontslae kan raak. Pick n Pay, in samewerking met Philips, het dieselfde inisiatief bekend gestel.
(Bron: www.eskomdsm.co.za)
 


Vorige bladsy: Jaarprogram 2015
Volgende bladsy: Kampe